'n Splinternuwe Afrikaanse kinderteateravontuur kom na die Adam Small Teater!
Wanneer twee ondeunde drake weer kattekwaad aanvang, word 'n rustige Karoo-dorpie onverwags in rep en roer gedompel. Skielik is niks meer soos dit hoort nie, en die inwoners moet saamwerk om orde te herstel voordat die moeilikheid handuit ruk.
Die Draakstekery van Vuur en Vlam is 'n oorspronklike kinderteaterproduksie vol humor, avontuur, kleurvolle karakters en opwindende gehoorinteraksie. Met 'n hartlike boodskap oor vriendskap, verantwoordelikheid en die waarde van gemeenskap beloof hierdie produksie om jong én ou gehore te betower.
Die produksie is geskryf en geregisseer deur Dr Schalk van der Merwe en word aangebied deur die Drama Departement van die Universiteit Stellenbosch. Met sy unieke Karoo-atmosfeer, sprankelende woordspel en verbeeldingryke teaterwêreld is Die Draakstekery van Vuur en Vlam 'n avontuurlike teaterervaring vir die hele gesin.